Vissies in die SCUBA-winkel

So, in Oktober laasjaar het ek ‘n werkswinkel van Philip Bloom (philipbloom.net) in Randburg gedoen en hier’s die resultaat:

https://vimeo.com/53540918

Vanaf die video se blad:

“This is a short video I did as part of a Philip Bloom workshop in Johannesburg. The brief was to film something everyday and make it interesting in 30 seconds.”

Toe eindig ek op in Brightwater Commons (die winkelsentrum waar die kursus) was se SCUBA winkel (Scuba Centre, http://www.aquadivers.co.za/)… Dis so bietjie verander na terugvoer by die werkswinkel en nie die beste video ooit nie, maar ek’s heel trots daarop :).

Cecilia

Advertisements

Israel timelapse

Jammer dat dit so stil was op die blog die afgelope tyd. So baie het gebeur :). Onderandere was ek en my suster Israel toe vir 3 weke. Ons was vrywilligers by die opgrawings by Tel Hazor in die noorde van Israel.
Baie hard gewerk, maar lekker getoer ook oor naweke, saam met die res van die groep van SA.

Hier is solank ‘n timelapse (wat is ‘n lekker Afrikaanse woord daarvoor?) wat ek geneem het van een van die Vrydae by die opgrawings: http://vimeo.com/47443792. Ongelukkig kan ek dit nognie vanaf Vimeo inbed nie, daarvoor moet jy ‘n Plus lidmaatskap kry. Enige kommentaar is welkom.

Dis met die Canon 7D, die wyehoek lens en ‘n intervalometer (‘n aanhangsel wat jou toelaat om ‘n foto elke interval te neem :)) gedoen. Redigering was met Adobe Premier Pro.

Kameragoed 3: Lense

As mens oor kameras en lense op die internet oplees, stem mense saam: die belegging is eintlik in die lense, nie die kamera self nie. ‘n Lens sal jy langer gebruik as ‘n spesifieke kamera en goeie lense is ook duurder as die kamera!

Vir ‘n goeie uiteensetting van verskillende lense en hoe die sensorgrootte die fokuslengte affekteer, is http://philipbloom.net/2010/08/20/which-lenses-to-buy/ ‘n uistekende plek om te kyk. Hier sal ek net opsom aan die hand van die lense en kamera tot my beskikking.

Om mee te begin, gebruik meeste DSLR’s vandag nie die volle beeld wat die lens gee nie, maar net ‘n gedeelte in die middel, want hulle sensors is net groot genoeg om ‘n gedeelte te dek. M.a.w. die beeld is in effek met ‘n faktor inge-zoom.

Die Canon 7D het ‘n APS-C grootte sensor. Daarvoor moet die fokuslengte van ‘n lens met 1.6 gemaal word om die effektiewe fokuslengte te kry. Dit maak van ‘n 28-135mm lens ‘n 44.8-216mm lens, van ‘n 80-200mm lens ‘n 128-320mm lens en van ‘n 10-22mm lens ‘n 16-35.2mm lens.

Hierdie zoom-faktor het weer veroorsaak dat vervaardigers aparte reekse lense ontwikkel het vir die kleiner sensors. Om Canon as ‘n voorbeeld te gebruik: behalwe hulle kit-lense ens., is daar hulle L-reeks, wat hulle beste reeks lense is, maar daar is ook die EF-S lense wat spesifiek vir kameras met kleiner sensors gemaak is. Die EF-S lense kan nie op kameras met volgrootte sensors (soos die Canon 5DmkII en 5DmkIII) gebruik word nie, maar die lense vir volgrootte sensors kan wel op kameras met kleiner sensors gebruik word.

As jy ‘n lens wil koop, moet jy beslis nie ou lense uitsluit nie. Hulle sal meestal met die hand gestel moet word, maar vir goeie video op ‘n DSLR moet baie goed in elk geval met die hand gestel word en jy kan uitstekende ou lense kry vir ‘n fraksie van wat hulle moderne eweknieë kos.

Kom ons vergelyk die drie lense wat ek nou gebruik:

10-22mm Canon EF-S lens

10-22mm Canon EF-S lens
  • op die Canon 7D ekwivalent aan 16-35.2mm
  • spoed: f/3.5-4.5
  • USM
  • wyehoek

10-22mm lens op 10mm (16mm effektief)

10-22mm lens op 22mm (35.2mm effektief)

28-135mm Canon lens

28-135mm Canon lens
  • op die Canon 7D ekwivalent aan 44.8-216mm
  • spoed: f/3.5-5.6
  • ouer L-reeks lens
  • IS, USM
  • autofokusstelsel stadiger as nuwer lense

28-135mm op 28mm (44.8mm effektief)

28-135mm op 135mm (216mm effektief)

80-200mm Rollei lens

80-200mm Rollei lens
Rollei-Canon aanpasser op 80-200mm Rollei lens
  • op die Canon 7D ekwivalent aan 128-320mm
  • spoed: f/2.8
  • geen outomatiese funksies nie
  • Rollei-Canon bajonet aanpasser

80-200mm lens op 80mm (128mm effektief)

80-200mm lens op 200mm (320mm effektief)

So, soos met baie dinge, doen jou huiswerk, lees op en kies jou lense versigtig vir wat jy wil doen.

Volgende: ander ekstras.

Kameragoed 2: noodsaaklike ekstras

Nota: die make van die toerusting wat ek hier van praat is die wat ek gebruik. Daar is baie ander wat net so goed werk.

Nou’t jy jou kamera en ‘n goeie lens (en ‘n kaart om op op te neem!), jy weet hoe om die kamera op film te stel en nou wil jy uitgaan en begin neem. Goed en wel, mens kan ver kom met net dit. Ongelukkig is ‘n DSLR eerstens ‘n stilkamera en maar tweedens ‘n filmkamera en ‘n paar goed is ekstra nodig om werklik (tegnies) goeie films te maak. Hier praat ek nie van eksterne monitors, ‘n “follow focus”, ‘n “glide cam”, “dollies”, hyskrane, ens., ens. nie, maar van iets so basies soos ‘n mikrofoon.

1. Ekstra batterye

Ten minste een. In een dag se skiet by die Botaniese tuin is ek deur altwee my batterye en ek het nie die hele dag geskiet nie. As jy ernstig verfilm is dit blykbaar maklik om deur 6 batterye op ‘n dag te gaan! Die derdeparty battery wat ek by gekoop het, is goedkoper en werk (sover) net so goed soos die Canon een.

2. Ekstra kaarte

Ek’s self ook skuldig aan die een. Op die oomblik het ek net een CF-kaart vir my kamera, doodeenvoudig oor die prys: ‘n 32GB, 60MB/s, UDMA compact flash kaart, soos die een wat ek reeds het, kos oor die R2000.

Moenie dink dat jy nie gou deur ‘n 32GB kaart sal gaan nie. Paasnaweek het ek dit in twee dae reggekry en ek het nie heeldag en aldag verfilm nie! Video vreet kaartspasie en mens wil nie op ‘n kritieke oomblik moet ophou, omdat jou spasie op is nie.

Daar kan ook fout gaan met so ‘n kaart, hetsy tydelik (korrupte lêerstelsel, ens.) of permanent (gewoonlik fisies, soos iemand wat per ongeluk oor die kaart ry). Met ‘n korrupte kaart kan die lêers met die regte sagteware gewoonlik teruggekry word, maar daar is geen waarborge nie en die data wat teruggekry word is nie noodwendig so goed as wat mens sou wou hê nie (sinkronisasie probleme, ens.). Met fisiese skade kan van die data dalk teruggekry word, maar die kans is baie slegter.

3. Ordentlike kamerasak

Ja, ‘n Lowepro kamerarugsak kos by ‘n R1000, maar sonder ‘n ordentlike kamerasak gaan jy een of ander tyd skade aan van jou toerusting lei. Ek hou van die idee van ‘n kamerasak wat nie met die eerste oogopslag soos een lyk nie, dus die rugsak. En dames, die rugsakke met die een band wat so oor die bors kom, werk NIE vir die voller vroulike figuur NIE.

4. Eksterne mikrofoon

Lees mens oor film en klank op die internet, is twee goed baie duidelik:

  1. Slegte klank is baie gouer en meer steurend in ‘n film as ‘n slegte beeld
  2. Slegte klank = amateuragtig

Die 7D se aanboord mikrofoon is nie baie goed nie. Dis mono en tel baie ruis op, veral van die hantering van die kamera.  So kry ‘n eksterne mikrofoon en kry ‘n goeie een.

Die een wat ek gebruik is die Røde Video Mic Pro. Dit kos nie ‘n plaas se prys nie (R1700 toe ek dit gekoop het deur een van die plaaslike verskaffers. Kyk op http://www.rodemic.com/wheretobuy/South_Africa), is stereo, direksioneel, het ‘n rekkie skokbrekerstelsel (om ruis minder te maak) en ingeboude versterking (as dit sou nodig wees). Dit werk ook van ‘n aparte battery af. Onthou om die mikrofoon aan te sit! Met ‘n eksterne mikrofoon ingeprop, werk die aanboord een nie, so jy eindig op sonder klank.

Røde Video mic Pro

Røde Video mic Pro met Fluffy, die windfilter

5. Driepoot

Mens kan ver kom met die kamera heeltyd in die hand, maar een of ander tyd wil jy ‘n beeld hê wat heeltemal stilstaan of glad ‘pan’ van een kant na die ander. Wanneer jy ‘n driepoot koop, maak seker jy koop ‘n videodriepoot, verkieslik een met ‘n vloeistofkop vir gladder bewegings. Ek kan nie uit ondervinding praat nie, maar blykbaar het die moderne fotodriepote stoppunte, wat lieflik is vir ‘n foto posisioneer, maar glad nie vir videobewegings werk nie.

My eie driepoot is ‘n ou Bilora videodriepoot uit +-1980 wat ek van my oupa geërf het. Dit het nie ‘n vloeistofkop nie, maar werk redelik goed vir wat ek nou wil doen. Die kopstuk het ‘n spleet, wat nie ‘n DSLR kan vat nie, maar dit was maklik om ‘n Manfrotto Quick Release Plate daarop vas te bout. Werk soos ‘n droom. As jy in dieselfde situasie is en ‘n winkel sê vir jou hulle kan nie net die plaat bestel nie, jy sal ‘n hele nuwe kop moet koop, gaan na ‘n ander winkel. Radiolens (genoem in my vorige post) het dit sonder probleme gedoen gekry.

6. Veranderbare ND (neutrale digtheid)-filter

As mens gewoond is aan net foto’s neem, verstaan jy nie werklik hoekom ‘n filter onder noodsaaklikhede sal tel nie. Hier’s die probleem: met video skiet jy teen ‘n spesifieke “frame rate” (bv vir PAL is dit 25 beelde per sekonde) en om mooi gladde bewegings in die video te kry is dit die beste om die sluiter oop te hou vir die helfte van die tyd vir een beeld. M.a.w. as jy teen 25 beelde per sekonde afneem, stel die sluiterspoed op 1/50’ste van ‘n sekonde.

Onmiddellik het jy net een manier oor om die hoeveelheid lig wat by die kamera inkom te verstel: die diafragma (“aperture”). Maar ‘n diafragma kan net tot so klein toe wanneer die lig sterk is. Of jy wil die fokusdiepte (m.a.w. die diafragma) op iets spesifiek hê.

Dis hier waar ‘n veranderbare ND-filter by kom as ‘n ekstra manier om die hoeveelheid lig te stel. Dit kom vas op die punt van die lens soos enige ander filter, maar kan gedraai word dat die beeld ligter of donkerder word. Nie dat ek al met ‘n regte vari ND-filter gewerk het nie. ‘n Ander – en goedkoper – opsie is om twee gewone polariseerfilters bo-oor mekaar te gebruik (voorgestel deur Radiolens. Nee, ek is nie so slim nie :)), met die beperking dat dit nie twee sirkelvormige (“circular”) polariseerfilters kan wees nie, want dit beïnvloed die kleur.

Vir my stelsel het ek ‘n sirkelvormige polariseerder wat op die lens vasskroef, ‘n reghoekige lenshouer wat bo-op dit vasskroef en ‘n lineêre polariseerder wat in die houer inskuif. Dan draai ek die voorste filter om die lig te verander:

Sirkelvormige polariseerder

Filterhouer bo-op die sirkelvormige polariseerder

Veranderbare ND-filter met polariseerders gebou

(die korrels is nog Kalaharisand van die Paasnaweek af…)

7. Redigeersagteware

Nou het jy ‘n reeks goed afgeneem en jy wil iets daarmee maak. Geen amateur kan ‘n volweergawe van een van die groot videoredigeringspakkette bekostig nie (dink R25 000 en op…). So, kyk na die verskillende gratis opsies (Microsoft se “Movie Maker” is blykbaar nie so sleg nie; al die Linux programme wat ek probeer het was meer frustrerend as iets anders). Dan is daar die toetsweergawes van Adobe Premier Pro, Final Cut Pro, ens wat mens ‘n spesifieke tydperk kan gebruik. As jy by ‘n opvoedkundige instansie is, kan jy ‘n opvoedkundige weergawe van Adobe Premier Pro teen ‘n enorme afslag kry (dink R2 800). Dalk van die ander pakkette ook.

Hoe dit ookal sy, kry een en begin; dis harder werk om ‘n video te redigeer soos jy hom wil hê as wat jy dalk dink.

Gepraat van sagteware. Daar’s natuurlike altyd roofkopieë, wat ek beslis nie voorstaan nie. Hoe kan ek verwag dat ander mense my kopiereg moet respekteer, as ek hulle s’n nie respekteer nie? Jou en jou gewete se besluit.

 

Een ding wat nie op hierdie lys is nie, is ligte. Hoofrede hiervoor is dat ek sover net buitenshuis afgeneem het en hulle nog nooit gebruik het nie. Dit sal kom. Verwag ‘n post daaroor, een of ander tyd…

Volgende: verskillende lense

Kameragoed vir film(pies)

Vir ‘n paar jaar het ek net die Canon Powershot A620 mik-en-druk vir foto’s gehad, maar so middel laasjaar het ek uit eindelik vir my ‘n DSLR gekoop, met een lens en ‘n CF kaart by.  En toe ernstig begin raak oor video’s neem. Van daar af het ‘n paar ander goed vir video stuk-stuk bygekom…

Nota: Ek praat hier van Canon’s, want dit is wat ek ken en gebruik, maar van wat ek al gelees het, is Nikon en ander make net so goed. Gebruik wat jy verkies.

Canon 7D met Canon 28-135mm IS USM lens:

Baie lekker kamera, maar baie om te leer om dit goed te kan gebruik. Lees die boekie! As jy wil video neem, is dit die moeite werd om ‘n opleidingsvideo aanlyn te koop (F-stop academy is waar ek myne gekry het).

Dis ‘n baie stewige kamera ook, redelik weerbestand en swaarder as baie ander in die Canon EOS reeks.

Twee dinge om te weet:

  1. Dis die moeite werd om na tweedehandse kameras en lense te kyk, veral vir jou sak se onthalwe. My 7D en al sy lense is tweedehands en ek is baie tevrede (dis deur www.gumtree.co.za gekoop by ‘n ou naby Kaapstad). Nie dat goeie goed altyd beskikbaar is nie en, natuurlik, maak seker jy koop van iemand wat eg is. Mense wat ek kan aanbeveel, is Radiolens in Pretoria. Hulle is al lank in die bedryf, weet waarvan hulle praat en is bereid om jou naam te vat en jou te laat weet as hulle iets inkry wat jy soek. As jy ooit daar kom, vra vrae en leer :).
  2. Die 7D is ‘n uitstekende kamera, maar die 550D en 600D  (Rebel T2i en Rebel T3i, onderskeidelik, in sekere ander lande) en die 60D het dieselfde sensor en amper al die funksies as die 7D! En hulle is ligter kameras, teen helfte en minder (vir die 60D) van  die prys van ‘n tweedehandse 7D… Lees bietjie prolost as jy meer wil weet.

Die 28-135mm lens is ‘n ouer L-reeks lens. Afhangende van wat jy wil doen, kan jy baie ver met net die lens kom, ten spyte van die 3.5-5.6 spoed. Vir die wat nie weet nie: die 3.5-5.6 spoed het te doen met die laagste f-stop (oftewel grootste opening) wat die lens by ‘n spesifieke zoom het. Hoe laer die getal, hoe groter kan die lens oopmaak, hoe korter hoef die kamera oop te wees om ‘n foto in spesifiek ligtoestande te neem en hoe vlakker kan die diepte van fokus wees.

Volgende keer: eerste goed om by te koop vir film…

My eerste internet kortfilm! : Mozart Akademie

Een van my kleinniggies, Carina, het die begin van die jaar ‘n skool vir “kinders met spesiale behoeftes” begin. Toe hou hulle ‘n oggendtee en ek neem dit af en maak ‘n kortfilmpie. Die tweede een wat ek klaar geredigeer het en die eerste een op die internet beskikbaar :):

Tegniese details:

Canon 7D met 28-135 mm USM IS lens en Røde Video mic Pro. Geredigeer in Adobe Premiere Pro en After Effects. Die foto is met ‘n Canon 550D en kit lens geneem.

Die grootste fout wat ek met die afneem gemaak het was om die kamera op outomaties te stel, i.p.v met ‘n aangepaste beeldstyl. Die kompressie metode (h264) waarmee die filmlêers van baie (meeste?) Canon DSLR’s gestoor word veroorsaak dat detail in die donker gedeeltes van die beeld weggegooi word. M.a.w. as jy enigsins na die tyd aan die kleur of lig vs donker wil gaan torring, stel die beeldstyl dat dit ‘n ‘plat’ of neutrale kleurverspreiding het dat jy die meeste inligting moontlik behou.

Iets soos ‘neutral’ of ‘n gebruikergedefinieerde een met bv. skerpheid op 0, kontras so ver af as moontlik, saturasie twee onder 0 en kleur op 0 (aanbeveel deur Philip Bloom) sal werk. Dit beteken dat mens dan na die tyd aan die kleur móét gaan verander, maar dis beter as wat jy niks aan ‘n slegte beeld kan doen nie.

Nogsteeds: dis ‘n film! en dis klaar!

(wat ‘n idee gee van al die ander projekte wat nie is nie…)

Wat, waarom, hoekom…

Wees gewaarsku, hierdie is ‘n blog oor filmsmaak. So as jy niks wil weet van kameras, afneem, kleurgradering, redigering, klank, ligte, mikrofone, lense, draaiboeke, ens, ens, ens nie, gee dit dalk ‘n skip :).

Vir die res: welkom!